Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > MEDIAVERKLARING: Wanvoeding onder bejaardes plaas bykomende las op gesondheidsorg – Ons Tuis ondersteun bejaardes met Borg ‘n Ete-veldtog

MEDIAVERKLARING: Wanvoeding onder bejaardes plaas bykomende las op gesondheidsorg – Ons Tuis ondersteun bejaardes met Borg ‘n Ete-veldtog

Die impak van bejaardesorg op die staat raak toenemend groter soos wat die getal bejaardes wat van die staat afhanklik raak, elke jaar toeneem.

Hoewel die regering slegs R1 780 per maand allokeer vir ‘n staatspensioen, dra die bykomende kostes soos mediese sorg as gevolg van swak voeding onder bejaardes verder by tot die totale bedrag van bejaardesorg.

“Hoe langer bejaardes, wat alreeds verswak is, in ‘n hospitaal bly, hoe groter word die kans dat hulle middelweerstandige infeksies soos longontsteking en septisisme kan opdoen, wat hulle dan langer in die hospitaal hou,” sê Matrone Jenny Wesson, die bestuurder van die Ons Tuis Monument Dienssentrum.

Wanvoeding onder ouer persone lei daartoe dat hulle verswakte immuunstelsels en verminderde beendigtheid – wat reeds begin afneem as gevolg van ouderdom – nog verder verswak. Die gevolge hiervan is bene, skouers, polse en heupe wat makliker breek en bejaardes wat meer gereeld, vir langer tydperke en meer ernstig siek word. Die hersteltydperk duur dan ook langer, wat ‘n verdere las op die staat se gesondheidsorg plaas.

“Wanneer bejaardes nie gesond of genoeg eet nie, neem hulle spierkrag af en hulle energievlakke word aangetas,” sê mev. Lizl van Eeden, ‘n arbeidsterapeut wat spesialiseer in bejaardesorg. “Dit lei daartoe dat hulle vermoë om take uit te voer en algemene funksies te verrig, verminder. Breinfunksie word ook aangetas wanneer die liggaam nie genoeg energie kry nie.”

“Bejaardes wat goed eet, is fisies sterker en meer mobiel, wat beteken dat hulle meer kan doen en dit meer dikwels self kan doen,” sê sy. “’n Bykomende voordeel van bejaardes wat saam in ‘n dienssentrum of ouetehuis eet, is dat hulle die geleentheid kry om sosiaal te verkeer met mense van hulle eie ouderdom. Sosialisering speel ‘n belangrike rol in die welstand van bejaardes. Eet, as ‘n ‘lekker’ aktiwiteit stel ook serotonien vry, wat verder bydra om hulle beter te laat voel.”

Die Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville gee daagliks vir bejaardes in die omgewing ‘n gesonde, gebalanseerde bord kos. Daar is egter ‘n dringende, groter behoefte aan gesonde kos waaraan die dienssentrum nie kan voldoen nie. Met die Borg ‘n Ete-veldtog word fondse ingesamel om bejaardes gevoed en gesond te hou en uiteindelik die las op die gesondheidsorgstelsel te verminder.  

Die koste van een gekookte, gesonde bord kos per bejaarde beloop R35.

Belangstellendes kan die veldtog ondersteun deur ‘n ete of meer te borg of deur ‘n gereelde ondersteuner van Ons Tuis te word om bejaardes te ondersteun.

Om die veldtog te ondersteun, besoek https://onstuis-otmt.org.za/borg-n-ete/.

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply