Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > Artikels  > Spanning lei tot chroniese siektetoestande onder Suid-Afrikaanse bejaardes

Spanning lei tot chroniese siektetoestande onder Suid-Afrikaanse bejaardes

Deur: Ons Tuis

Die spannende omstandighede waarin Suid-Afrikaners ouer word dra grootliks by tot die toenemende voorkoms van chroniese siektetoestande onder bejaardes.

Volgens navorsing van die Amerikaanse Nasionale Raad oor Veroudering ly 92% van bejaardes aan ten minste een chroniese siekte, terwyl 77% van die groep ten minste twee chroniese siektes het.

“In Suid-Afrika, onder die pasiënte wat ons behandel, stem hierdie statistieke ooreen met wat ons ervaar,” sê Matrone Jenny Wesson, die bestuurder van die Ons Tuis Monument Dienssentrum. “Hier sien ons meestal hoë bloeddruk, tipe2-diabetes en hartverwante siektes as die chroniese toestande waarvoor bejaardes behandeling nodig het.”

Volgens Wesson kan die oorsaak van hierdie chroniese toestande meestal deurgetrek word na die uiters spanningsvolle omgewing waarin Suid-Afrikaners hulle bevind.

“Jare gelede was mense amper gewaarborg van ‘n werk totdat hulle aftree, maar dit is beslis nie meer die geval nie,” sê sy. “Om vandag te oorleef in die arbeidsmark dra geweldig baie by tot die hoë stresvlakke wat lei tot chroniese siektetoestande op hulle oudag.”

Die hoë misdaadsyfer en swak ekonomie is verdere sondebokke wat bydra tot onderliggende spanning. Maar dit is uiteindelik die swak bestuur van spanning wat lei tot ‘n ongesonde lewenstyl wat een van die groot oorsake van chroniese siektetoestande is.

“Rook, die misbruik van alkohol, swak eetgewoontes en onvoldoende oefening as die resultate van spanning wanneer jy jonger is, veroorsaak probleme wanneer jy ouer is,” sê sy. “Die mengsel van ‘n ongesonde lewenstyl en genetiese faktore is wat chroniese siektetoestande onder bejaardes veroorsaak.

“Jy moet reeds in jou veertigs begin om gesond te leef en nie dink dat jy eers later daaroor hoef bekommerd te wees nie,” waarsku sy. “Ons sien ‘n neiging dat mense dink ‘n chroniese siektetoestand kan eenvoudig met medikasie behandel word wanneer jy ouer is.”

Hoë bloeddruk en hartsiektes lei in baie gevalle tot beroertes en hartaanvalle en affekteer ook ander belangrike organe. Dit lei op die beurt na ‘n groter geneigdheid om siektes soos Alzheimers te ontwikkel.

“Bestuur jou stresvlakke op ‘n gesonde manier,” sê Wesson. “Gebruik alkohol matig, moenie rook nie, eet gebalanseerd en bly aktief – al stap jy net met jou honde of kinders – wanneer jy jonger is. Dit sal tot jou voordeel strek wanneer jy ouer is.”

Hannelie Fourie