Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Seniors vier die liefde met maskers

Seniors vier die liefde met maskers

Die oues van vlees het nie ‘n tree teruggestaan vir die jonges van hart tydens die onlangse liefdesvieringe by die Andries-Marie Oosthuizen Tehuis* in Parys se Valentynsete nie.

Die inwoners van die tehuis het vooraf hard gewerk om self die gesigmaskers vir die geleentheid te maak en te versier. Dit is met groot genot tydens die ete vertoon.

“Die country-gospel van Eugene en Saartjie het ons inwoners se harte warm laat klop,” sê mev. Teresa Broodryk, die matrone van die Andries-Marie Oosthuizen Tehuis. “Die warm gevoel van liefde is verder aangewakker deur die ete wat vir die soet- en souttande onder ons voorsiening gemaak het.

“Dit was lekker om te sien hoe ons inwoners dit geniet het om kreatief te wees met die maak van hulle maskers,” sê sy. “Kuns en kreatiewe aktiwiteite is belangrik vir die algemene welstand en geestesgesondheid van ons bejaardes.”

‘n Minion Mascot het die gaste verras met lekkers en kwinkslae.

Mev. Elise Dietrichsen het die wisseltrofee vir Me Valentyn 2020 ontvang vir haar oorspronklike Spider Woman-masker.

“Die geleentheid het ons opnuut daaraan herinner dat liefde nie net gegee word nie, mar ook ontvang word,” sê mev. Broodryk. “Liefde word deur die Heilige Gees in ons harte geplaas en Jesus aan die kruis is die voorbeeld van ware liefde.”

*Die Andries-Marie Oosthuizen Tehuis is deel van die Ons Tuis organisasie met agt tehuise onder die vaandel. Andries-Marie Oosthuizen bied ‘n versorgingsafdeling vir 25 verswakte bejaardes en ‘n behuisingseenheid waar bejaardes wat nog selfstandig funksioneer in kamers en in woonstelle woon en ondersteunende dienste vanuit die tehuis ontvang.

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply