Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Regering moet besin oor spandeerbare fondse van senior Suid-Afrikaners

Regering moet besin oor spandeerbare fondse van senior Suid-Afrikaners

Die Minister van Finansies, mnr. Tito Mboweni was weereens nie die seniors van Suid-Afrika goedgesind tydens die Begrotingsrede nie.

“’n Skamele R80 per maand meer op ‘n staatsouderdomtoelaag doen weinig om die lot van ‘n bejaarde te verbeter,” sê mnr. Jaco Bothma, die Besturende Direkteur van Ons Tuis. “Met R1 860 per maand is dit steeds ‘n geweldige uitdaging vir ‘n bejaarde persoon om kos, verblyf en medikasie te bekostig. Dan dink ons nie eers aan klere en ander lewensmiddele soos toiletbenodighede nie.”

Die minister het tydens sy begrotingsrede gesê: ‘We are a caring society. We are a caring government’, maar bitter min word prakties gedoen om te wys hoe die regering vir bejaardes omgee. Ons seniors het basies net ‘n pensioenfonds om op staat te maak. Van spesiale ouderdomsvoordele in die vorm van afslag op medikasie en ander lewensmiddele is daar geen sprake nie.

“Daar word R396,4miljard begroot vir onderwys, maar studente plunder en brand al vir maande lank universiteite,” sê mnr. Botha. “Dit terwyl daar slegs R83,2miljard vir bejaardes – wat jare lank ‘n belangrike bydrae tot die ekonomie gelewer het – begroot is.”

‘n Ligpunt is dat BTW vanjaar nie opwaarts aangepas is nie en dat daar belastingverligting is.   

Dit is ook verblydend dat die belasbare inkomstekerwe vir mense tussen die ouderdomme van 65 en 74 in die 2020-begroting tot R128 650 aangepas het. Die inkomstekerf vir seniors ouer as 75 skuif op na R143 850.

Persoonlike inkomstebelastingkortings vir bejaardes bo 65 is verhoog tot R8 199 en vir mense bo 75, tot R2 763.

“Hoewel ons gehoop het dat die belastingvrye drempel vir spaargeld tot R50 000 verhoog sou word, het die minister aangekondig dat dit met net R3 000 tot R36 000 per jaar verhoog word,” sê mnr. Botha. “Dit maak dit moeiliker vir jonger én ouer persone om meer spaargeld weg te sit vir hulle oudag.

Dit word ‘n bose kringloop waar jy nie genoeg kan spaar wanneer jy jonger is nie, en dan aan ‘n staatstoelaag oorgelaat word wanneer jy ouer is. Dit is nou regtig tyd dat die staat besin oor die toekoms, nie net van die land nie, maar ook van die inwoners.”

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply