Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > Nuusbrief  > Piet Potgieter Alzheimer-inwoners kry vroetelborde

Piet Potgieter Alzheimer-inwoners kry vroetelborde

Die Piet Potgieter tehuis spesialiseer in die versorging van 78 verswakte bejaardes, waarvan 28 demensie of Alzheimer se siekte het.

“Ons is verskriklik opgewonde oor die vroetelborde wat ons vir ons Alzheimer-inwoners gekry het,” sê Mariana van Tonder, die bestuurder van die tehuis. “Die projek is al ‘n geruime tyd in bespreking en beplanning en uiteindelik het ons dit so twee weke gelede geïnstalleer.

“Die borde help met sensoriese stimulering en is ‘n manier om negatiewe gedrag soos om klere of toiletpapier op te rol of in stukkies te skeur, te verander in iets positief.”

Die vroetelborde bestaan uit houtborde waarop verskeie voorwerpe waarmee die bejaardes besig kan bly, vasgesit is. Dié borde is dan oral in die Alzheimers-afdeling, soos die gange en sitkamer, en plekke waar hiérdie inwoners beweeg, teen mure aangebring. Die voorwerpe op die borde, asook die borde self is stewig met skroewe vasgemaak. Johan Volschenk – ‘n vrywilliger – het die borde met die insette van die bestuur van die tehuis gemaak.

“Die borde het allerhande voorwerpe soos balle, elektriese skakelaars, slotte, krale en selfs ‘n sleutelbord van ‘n rekenaar daarop,” verduidelik Mariana. “Ons het ‘n tannie wat altyd besig is om aan die slotte van die deure by die Alzheimers-afdeling te karring. Die slotte op die borde hou haar nou lekker besig, gelukkig en veilig.

“‘n Omie in die afdeling maak gedurig al wat ‘n kamerdeur is oop en toe. Die miniatuur-deurtjie op van die borde is spesifiek vir hom gemaak.

“En dan het ons ‘n ander inwoner wat mal was oor ‘n stuurwieletjie op een van die borde. Ons het geen idee waarheen sy in haar gedagtes gery het nie, maar sy het die stuurwiel skoon van die bord af gery! Dis waar ons besef het dat die borde regtig effektief is. Sy het die stuurwiel verskriklik gemis toe dit reggemaak moes word”.

Hannelie Fourie