Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Ons Tuis maak voorstelle vir 2020 Begroting

Ons Tuis maak voorstelle vir 2020 Begroting

Die Ons Tuis organisasie het verskeie verwagtinge van die jaarlikse begrotingsrede van die Minister van Finansies, Tito Mboweni, in die hoop dat dit die lot van senior Suid-Afrikaners sal verbeter. Die ekonomie, en dus ook die land se begroting, het ‘n direkte invloed op die lewenskwaliteit van bejaardes.

Die jaarlikse verhoging van die verskeidenheid staatstoelae word tydens die begrotingsrede aangekondig.

“In die lig van die minimumloon wat in Maart met 3,8% verhoog na meer as R3 500 per maand, word die hoop gehuldig dat inflasie en lewenskoste ook in ag geneem sal word wanneer die ouderdomspensioen verhoog word,” sê mnr. Jaco Bothma, die Besturende Direkteur van Ons Tuis. “Dit is ‘n groot uitdaging vir bejaardes om met ‘n pensioen van R1 780 per maand te oorleef.”

Min. Mboweni kyk na die belastingkoffers om die staat aan die gang te hou, maar Ons Tuis hoop dat hy die drempel vir belasting op pensioenfondse sal verlaag en dit eerder elders sal verhaal, sodat senior burgers meer spandeerbare fondse sal hê wanneer hulle van ‘n pensioenfonds afhanklik is.

“Dit sal van groot hulp wees indien die belastingvrye drempel vir spaargeld  tot R50 000 verhoog kan word,” sê mnr. Bothma. “Dit sal jonger én ouer persone aanmoedig om dan meer spaargeld weg te sit vir hulle oudag.

“In dieselfde asem stel ons voor dat daar ondersoek ingestel word na die moontlikheid dat die wisselkoers nie ‘n invloed op die rentekoers van beleggings het nie,” sê hy. “Beleggings is deel van vele bejaardes se aftreeplan en veranderinge aan die rentekoers daarop, kan so ‘n plan maak of breek.”

Tydens verlede jaar se begrotingsrede het die minister planne aangekondig vir ‘n vroeë aftrede raamwerk vir ouer staatsamptenare in ‘n poging om die swaar las van salarisse op die staat te verlig. Ons Tuis wil eerder voorstel dat die aftreeouderdom van alle staatsamptenare van 60 na 65 verhoog word.

“Indien mense langer werk, word die bydrae tot die pensioenfonds meer wat dan lei tot ‘n beter aftrede,” sê mnr. Bothma.

Ons Tuis hoop verder dat daar nie weer ‘n BTW-verhoging sal wees nie, aangesien dit ‘n direkte merkbare invloed op die lewenskoste van ouer mense het.

“Ons wil voorstel dat alle afgetredenes ‘n pensioenkaart met bepaalde voordele ontvang,” sê mnr. Bothma. “Voordele wat afslag op basiese middele soos kos, mediese sorg en medikasie insluit, sal bydra om die finansies van ouer mense te rek.”

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply