Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Ons Tuis groep oorweldig deur noodsaaklike skenkings uit gemeenskap

Ons Tuis groep oorweldig deur noodsaaklike skenkings uit gemeenskap

Die inwoners van die Ons Tuis ouetehuise het die afgelope twee weke breed geglimlag oor skenkings van regoor Suid-Afrika wat kos, kontant en noodsaaklike middels insluit, wat aan die groep gemaak is.

Die Ons Tuis-groep het vinnig die finansiële druk van die tydperk van inperking begin voel. Die onderskeie tehuise in Pretoria, Mokopane en Parys is baie afhanklik van fondsinsamelingsprojekte om die versorgingsfasiliteite effektief te bestuur. Vanselfsprekend kan die aksies nie tydens die inperking voortgaan nie, en daarom het Ons Tuis ‘n veldtog van stapel gestuur om die publiek te versoek om op enige manier ondersteuning te bied.

“Die bereidwilligheid van Suid-Afrikaners om kwesbare bejaardes te ondersteun het ons verras en verheug,” sê mnr. Jaco Bothma, die Besturende Direkteur van Ons Tuis. “Ons was ook opgewonde oor die netwerk van omgee-organisasies wat hande gevat en die veldtog nog meer momentum gegee het.

“Ek dink nie mense besef hoe baie dit vir ons beteken nie. Dis nie bloot die kos en geld wat hoop skep nie, maar die ware betrokkenheid en harte wat ons inwoners versterk.”

Sedert die veldtog afgeskop het, het GrootFM en Spar deur die #JouMenseMyMense-insetsel R5 000 aan die groep geskenk. GrootFM was so geraak oor hoe alleen en bang bejaardes tydens die inperking voel, dat hulle ook ‘n Briefies vir Bejaardes-inisiatief bekendgestel het, om bejaardes te bemoedig.

Daaruit het die organisasie WeCook die Ons Tuis-groep as ‘n begunstigde in hulle WeCan-projek aangewys. Hiermee kon Suid-Afrikaners oor twee dae kos in die vorm van 5kg groente en 1kg hoendersop-kombo’s teen R59 elk, vir Ons Tuis aankoop.

‘n Oorweldigende ses ton groente en net oor ‘n ton hoendersop ter waarde van meer as R71 000 is so ingesamel. Die publiek het 1 218 kombo’s aangekoop. Ons Tuis moes vandeesweek rondskarrel om genoeg vervoer te reël om die kos op te laai en tussen die tehuise te verdeel.

“Ons is oorweldig deur die oop hande van die gemeenskap,” sê Bothma. “Elke bydrae, van individue en besighede tot organisasies, word uit ons harte waardeer. Dit maak ons taak om verseker dat ons bejaardes op hulle oudag goed versorg word, beslis ligter. Ons bedank elke Suid-Afrikaner wat die veldtog ondersteun.”

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply