Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Ons Tuis groep ernstig bekommerd oor voorrade tydens tydperk van afsondering

Ons Tuis groep ernstig bekommerd oor voorrade tydens tydperk van afsondering

Bejaardes en die versorgingsfasiliteite wat na hulle omsien, soos die Ons Tuis groep, is veral kwesbaar tydens die COVID-19 uitbreking en gepaardgaande 21 dae van inperking waarin Suid-Afrika verkeer.

“Ons is uiters bekommerd oor die impak van die virus op ons onderskeie tehuise se voorrade en finansies,” sê mnr. Jaco Bothma, die Besturende Direkteur van Ons Tuis. “Ons Tuis het voortdurend ‘n behoefte aan items soos seep en skoonmaak- en reinigingsmiddels, om die tehuise effektief te bestuur – selfs sonder die uitdagings van ‘n wêreldwye pandemie wat veral bejaardes verswak. Ons tehuise pak gereeld fondsinsamelingsaksies aan om in hierdie behoeftes te voorsien, maar dit kan vanselfsprekend nie tydens die tydperk van afsondering voortgaan nie.”

Die groep, met tehuise in Pretoria, Parys en Mokopane, het ‘n lys van behoeftes saamgestel wat dringend benodig word.

“Ons Tuis is besorg oor die gevolge, sou ‘n inwoner die koronavirus opdoen,” sê mnr. Bothma. “Ons het reeds isolasie-afdelings geskep by die onderskeie fasiliteite om enige moontlike geval van infeksie effektief te bestuur. Maar die afdelings benodig dringend produkte vir die gepaardgaande behoeftes.”

Ons doen ‘n beroep op enige organisasie, besigheid of individu om skenkings aan Ons Tuis ouetehuise te oorweeg. Volg hierdie skakel vir ‘n lys van die behoeftes en maniere om skenkings te maak.

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply