Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Ons Tuis bevorder bewustheid oor Alzheimersiekte in November

Ons Tuis bevorder bewustheid oor Alzheimersiekte in November

Ongeveer 50 miljoen mense wêreldwyd leef met Alzheimersiekte. Meer as die helfte van hierdie gevalle leef in lande waar gesondheidsorg tekort skiet – meestal in ontwikkelende lande – en die voorspelling is dat dit tot meer as 70% kan styg teen 2050. In lande met goeie mediese ingryping waar lewenstyle die risikofaktore beperk, het die siekte begin afneem.

Die Ons Tuis organisasie met verskeie fasiliteite vir bejaardes  onder hul vaandel, bied verblyf vir ouer en verswakte persone en spesialiseer in die versorging van persone met Alzheimersiekte en ander seniele demensies.

“Dit is baie belangrik dat mense bewus is van die simptome van Alzheimersiekte, om dit beter te bestuur,” sê Matrone Wesson van die Ons Tuis organisasie. “Alzheimersiekte is ‘n soort demensie wat lei tot probleme met geheue, denke en gedrag. Dit is die algemeenste vorm van demensie en is verantwoordelik vir 60 tot 80 persent van alle gevalle van demensie.

“Alzheimersiekte word mettertyd erger en kom uiteindelik tot ‘n punt waar iemand nie meer daaglikse take kan verrig nie. In die begin is geheueprobleme min, maar namate die siekte vorder, raak pasiënte minder bewus van hul omgewing en kan hulle nie meer ‘n gesprek voer nie.”

Die simptome van Alzheimersiekte:

  • Geheueverlies;
  • Moeilik om te beplan of probleme op te los;
  • Verwarring met tyd en plek;
  • Verloor goed en kan nie onthou waar en hoe hulle dit verloor het nie; en
  • Persoonlikheid en gemoedstoestand verander.

“Daar is nie enige medisyne of behandeling om ‘n persoon met Alzheimersiekte te genees nie, maar daar is sekere behandeling wat die vordering van die siekte kan vertraag,” sê Matrone Wesson. “Geliefdes en versorgers kan ook ondersteuning aan iemand met Alzheimersiekte bied, veral wanneer die siekte nog in die vroeë stadiums is.”

Hoe om iemand met Alzheimersiekte te ondersteun:

  • Hou ‘n daaglikse roetine wat help om verwarring te voorkom;
  • Moenie oorstimuleer nie en hou dinge eenvoudig;
  • Probeer altyd om die persoon veilig en gemaklik te laat voel; en
  • Moenie skreeu, stry of uit frustrasie redeneer nie.

“Alhoewel dit moontlik is om in die vroeë stadiums van die siekte na ‘n Alzheimer-pasiënt om te sien, raak dit gewoonlik moeiliker om daarmee vol te hou,” verduidelik Matrone Wesson. “Alzheimer-pasiënte hou dikwels vir hulleself ‘n gevaar in omdat hulle vergeet van basiese veiligheidsmaatreëls. Wanneer die siekte hierdie fase bereik, is dit tyd om ‘n versorgingsfasiliteit te oorweeg wat die pasiënt se behoeftes kan monitor en bestuur.”

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply