Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > MEDIAVERKLARING: Ons Tuis vra publiek om ‘n grootouer aan te neem ter ondersteuning van Wêreld Geestesgesondheidsdag

MEDIAVERKLARING: Ons Tuis vra publiek om ‘n grootouer aan te neem ter ondersteuning van Wêreld Geestesgesondheidsdag

Vanjaar se Wêreld Geestesgesondheidsdag (10 Oktober 2020) vind plaas te midde van die COVID-19 staat van inperking. Dit was vir ons bejaardes ‘n uitdagende tydperk wat hul geestesgesondheid beïnvloed het. Ons Tuis, ‘n organisasie sonder winsbejag wat fokus op die aktiewe veroudering van ouer persone in Suid-Afrika, stel hiermee graag hul Neem ‘n Grootouer Aan veldtog bekend.

 

Dié inisiatief moedig ondersteuners aan om by die emosionele welstand van ‘n spesifieke afgesonderde bejaarde betrokke te raak. Daar is meer as 300 bejaardes in wie se lewe jy ‘n verskil kan maak deur vir enige een van hulle ‘n bederfpakkie te stuur, ‘n briefie te skryf of telefonies of via WhatsApp met hulle kontak te maak.

 

As voorsorgmaatreël vir die verspreiding van die Koronavirus, word besoeke aan familie en vriende in tehuise beperk. Die emosionele impak van gebeure het tot gevolg dat talle bejaardes wat voorheen selfversorgend was, weens afsondering en alleenheid, agteruit gegaan het en versorging benodig.

 

“Menslike interaksie is een van die belangrikste boustene vir algemene welstand en geestesgesondheid. Babas wat gereelde aanraking ontvang groei nie net 47% vinniger nie, hul senuweestelsel is beter ontwikkel en hul floreer. Hierdie behoefte verdwyn ook nie namate jy ouer raak nie,” sê Daleen Gouws, woordvoerder van Ons Tuis.

 

Die trauma rondom vrees om COVID-19 op te doen en verlies aan persoonlike kontak, plaas geweldige druk op personeel van die instansies. Afgesien van die personeel se basiese dag-tot-dag persoonlike behoeftes, moet daar ook in die emosionele welstand van hul inwoners belê word.

 

“Verryk die lewe van ‘n ouer persoon – en jou eie – deur ‘n grootouer aan te neem! Hul kosbare herinneringe ontsluit ‘n era van storievertel, bobaas baksters, absurde modegiere, vervoermiddels en ontdekkings wat, net soos hulle, nie vergeet behoort te word nie. Die proses om die sonskyn weer terug te plaas in só iemand se lewe is so moeiteloos,” verduidelik Gouws.

 

Ons Tuis wil op u hart druk om by ons “Neem ‘n Grootouer Aan” veldtog betrokke te raak en ‘n verskil te maak aan die geestelike moraal van ons bejaardes deur:

 

  • Kontak te maak: Betrek hulle by jou lewe deur middel van geskrewe briewe, e-posse, telefoonoproepe of teksboodskappe. Leer mekaar beter ken deur ‘n paar gunsteling foto’s met u aangenome grootouer te deel en nooi hulle uit om dieselfde te doen. Gebruik teksboodskappe om stories te vertel en te leer hoe hulle lewe was voordat jy hulle ontmoet het – storievertelling is ideaal om die geheue te versterk en bring goeie herinneringe terug.
  • Finansieel by te dra: Ondersteun ouetehuise, dienssentrums of bejaardesorgsentrums finansieel. Die ondersteuning kan hulle help om meer mense in diens te neem om sosiale kontak vir inwoners te bevorder.
  • Stuur ‘n gepaste bederfpakkie: Wys jou aangenome grootouer jy gee om met ‘n gepaste geskenk.

 

Om te verseker dat Ons Tuis se inwoners ten alle tye veilig is, sal alle aansoeke op die webblad eers aan ‘n keuringsproses onderwerp word. Aansoeke moet volledig voltooi word en alle nodige dokumentasie moet ook aangeheg word.

 

Vir al die veldtogbesonderhede, besoek Ons Tuis se webtuiste by: https://onstuis-otmt.org.za/grootouer/

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Share
Hannelie Fourie