Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > MEDIAVERKLARING: Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville steun bejaardes met Borg ‘n Ete-veldtog

MEDIAVERKLARING: Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville steun bejaardes met Borg ‘n Ete-veldtog

Die Ons Tuis Monument Dienssentrum in Danville gee daagliks vir meer as 60 bejaardes in die omgewing ‘n gebalanseerde bord kos. Soms is dit hulle enigste ete vir die dag.

“Ons is bewus van soveel ander bejaardes in die omgewing wat ook ‘n behoefte het aan gesonde, gekookte kos, maar ongelukkig maak ons fondse net voorsiening vir die huidige bejaardes wat ons elke dag voed,” sê Sr Jenny Wesson, die bestuurder van die Ons Tuis Monument Dienssentrum. “Met die Borg ‘n Ete-veldtog wil ons graag bewustheid skep oor die nood wat onder bejaardes bestaan en fondse insamel om hulle las te verlig.”

Duisende bejaardes in Suid-Afrika weet nie waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Hulle karige pensioen dek net-net hulle eenvoudige verblyf. Daar is nie altyd genoeg geld vir ‘n bietjie kos ook nie. Gesonde, gebalanseerde maaltye is meestal net ‘n versugting. 

“Genoeg gesonde kos is van uiterste belang om bejaardes se verswakte immuunstelsels en beendigtheid te beskerm,” sê Sr Wesson. “Sonder ‘n gebalanseerde bord kos word hulle meer gereeld siek en bly langer siek. Hulle breek makliker bene, polse en heupe. Hulle sukkel om te konsentreer, is futloos en vind dit moeilik om selfs die eenvoudigste daaglikse take te verrig. Te min gesonde kos kan lei tot depressie, hartsiektes en ander chroniese siektes.”

Die koste van een gekookte, gesonde bord kos per bejaarde beloop R35. Belangstellendes kan die veldtog ondersteun deur ‘n ete of meer te borg of deur ‘n ondersteuner van Ons Tuis te word wat gereeld bydra om bejaardes te ondersteun. Om die veldtog te ondersteun, besoek www.onstuis-otmt.org.za/borg-n-ete/

Vir media navrae kontak:

Sr Jenny Wesson – Bestuurder: Ons Tuis Monument Dienssentrum

Sel: 082 896 7973

Daleen Gouws – Woordvoerder: Ons Tuis

Sel: 083 284 3416

daleen@edgecommunications.co.za

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply