Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Mediaverklaring: Kersliggiefees vir Piet Potgieter Tehuis breek weer aan

Mediaverklaring: Kersliggiefees vir Piet Potgieter Tehuis breek weer aan

11 November 2019

Die uiters gewilde jaarlikse Kersliggiefees ten bate van die *Piet Potgieter tehuis vir bejaardes sal weer op van 30 November die inwoners van Mokopane (Potgietersrus) in die Kersluim kry.

Die fees skop af met die Kersmark wat verskeie stalletjies, aktiwiteite en kunstenaars bied. Daarna volg ‘n interaktiewe kinderteater en geleentheid met die geliefde spreker Lindie Strydom. Die fees word afgesluit met optredes van Jannie Moolman en Zita Pretorius.

“Ons inwoners en die hele Mokopane sien elke jaar uit na die Kersliggiefees en dis vir ons verskriklik lekker om die aftreeoord in liggies te tooi in die aanloop tot Kersdag,” sê Mariana van Tonder, die organiseerder. “Die fees bied aan inwoners die geleentheid om bande te smee met die gemeenskap. Dit is ook ‘n manier om die tehuis se fondse aan te vul om sodoende die inwoners se verblyf en geriewe te verbeter. Ons tehuise ontvang slegs ‘n klein subsidie van die staat en is daarom op hulself aangewese om die nodige fondse in te samel.”

Die Kersliggiefees word van Saterdag 30 November tot 12 Desember aangebied. Die Kersmark (30 November) begin om 14:00 en is propvol aktiwiteite wat vertonings van lyndansers, ‘n hondeskool, volksangers, Dansmuis en die kunstenaars Thys Gouws en Rudi Muller insluit.

Afgesien van verskeie kosstalletjies met pannekoek, varkburgers en pap en kaiings, is daar ook ‘n kinderspeelarea beskikbaar. Die kersliggies word aangeskakel sodra dit donker genoeg is. ‘n Donasie van R10 per persoon word by die hek gevra. Op 3 Desember om 18:30 word die “Laat jou liggie skyn”-produksie vir kinders tussen drie en agt jaar deur Interactive Produksie aangebied teen R30 per persoon.

Daarna sal Lindie Strydom op 6 Desember die gehoor inspireer met haar gesprek: “My lewe is ‘n dankie”. Kaartjies beloop R100 en sluit verversings en ingang in. Die gewilde sanger Jannie Moolman tree op 10 Desember teen R80 per persoon op en Zita Pretorius tree op 12 Desember op Game se dak as deel van die Maxi’s funksie op.

Kom geniet die Kersliggiefees ten bate van bejaardes:
Datum: Saterdag, 30 November 2019 tot Donderdag, 12 Desember 2019
Plek: Mokopane, Limpopo
Navrae: Mariana van Tonder – 015 491 6314 / 082 804 6854 of marianavt@otmt.org

Vir media navrae kontak:
Mariana van Tonder – Bestuurder: Piet Potgieter Tehuis
Sel: 082 804 6854

*Die Piet Potgieter Tehuis is deel van die Ons Tuis fasiliteite met agt tehuise onder een
vaandel. Piet Potgieter Tehuis bied ‘n 24-uur allesomvattende diens vir 78 verswakte
bejaardes, waarvan 28 demensie of Alzheimer se siekte het. Die aftreeoord maak in totaal
voorsiening vir die huisvesting van 210 bejaardes.

Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply