Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > nuus  > Honde – bejaardes se beste vriende

Honde – bejaardes se beste vriende

“Dis ongelooflik! Om te sien hoe ‘n tannie van so te sê ‘n katatoniese staat – waar sy nie meer praat of beweeg nie en net voor haar sit en uitstaar – begin glimlag en haar oë begin blink, en dan haar hand uitsteek om oor die pels te streel. Dis regtig ongelooflik.”

By Ons Tuis Piet Potgieter Tehuis vir Bejaardes in Mokopane/Potgietersrus word omgesien na 28 inwoners met Alzheimers se siekte. Dit wissel van inwoners wat nou eers in die beginfase van die ongeneeslike siekte is waar geheueverlies en ‘n onvermoë om bekende take uit te voer voorkom, tot dié wat in die gevorderde fase daarvan is en bloot voor hulle sit en uitstaar, onbewus van hulle omgewing en tyd en dikwels angstig omdat hulle hele wêreld onbekend en deurmekaar voel.

“Hierdie mense is maar ons afvlerk-voëltjies vir wie ons baie lief is,” verduidelik Mariaan van Tonder, die bestuurder van die tehuis. Sy meld dat die tehuis onder andere verblyf en versorging aan ander bejaardes bied, maar hierdie groep het ekstra aandag nodig.”

Dit is met hierdie gedagte in haar kop en navorsing oor mens-en-dier-interaksie tydens haar Meestersgraadstudies in maatskaplike werk, dat Mariaan en haar span begin het om honde in te span om die Alzheimers-inwoners te kalmeer en behandel.

“Hier is katte op die perseel, maar hulle vermy maar eintlik mense,” verduidelik sy. “Ons vat die pasiënte ook graag uit na die tuin om na die voëls te sit en kyk. Maar dit was eers na ‘n demonstrasie van Paws for People – wat gidshonde oplei – toe ons gesien het hoe die Alzheimers-inwoners daarop reageer, dat ons besluit het om honde as deel van die terapie in te span.”

Engela Meintjies, ‘n boervrou van die omgewing, bring nou een maal per week haar drie honde – ‘n Jack Russel en twee Labradors – om tyd saam met die inwoners deur te bring.

“Die Jack Russel is so oulik!” sê Mariaan. “Terwyl Engela nog met die twee Labradors ingestap kom, hardloop sy vooruit en begin solank werk! Sy ken die uitleg van die tehuis en weet self waarheen om te gaan.”

Engela en haar honde spandeer ongeveer drie ure, maar soms selfs die hele oggend, saam met die inwoners. Tydens die sessies gesels sy met die inwoners en help hulle om oor die honde se pelse te vryf.

“In die begin het ek saam met Engela gebly vir die terapie, maar sy het so ‘n natuurlike aanvoeling en liefde vir mense en diere, dat sy nou op haar eie saam met die geriatriese personeel aangaan. Sy doen ook terapie met perde vir gestremde kinders. Engela het regtig ‘n passie daarvoor om mense te help.”

Alzheimers-lyers is dikwels angstig, onrustig en toon ontoepaslike gedrag. By die tehuis ervaar die personeel dat die inwoners gereeld lukraak woorde herhaal en uitroep. Lyers se verstandelike vermoëns begin afneem, hulle sukkel om helder te dink en verstaan, of om nuwe herinneringe te vorm of selfs bekende dinge, mense of omgewings te eien. Verder kan die pasiënte aggressief, geïrriteerd in onrustig raak terwyl hulle dit moeisaam vind om na hulleself om te sien of selfs hulle spierbewegings te beheer.

“Ons vind dat die inwoners na ‘n besoek van die honde ‘n rustigheid oor hulle kry,” sê Mariaan. “Die angstigheid en geroepery is beslis heelwat minder.

“Dit is asof die inwoners die honde as hulle eie honde van hulle verlede – dikwels van toe hulle kinders was – identifiseer. Hulle noem dan ook die honde op dié honde se name. En vir ‘n wyle is dit dan asof hulle weer op ‘n gelukkige tyd en plek saam met ‘n vierpotige vriend is.”

Share
Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply