Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > Artikels  > Die koste van gesondheidsorg vir bejaardes

Die koste van gesondheidsorg vir bejaardes

Afgetredenes wil hul goue jare geniet aangesien dit  ʼn tyd is om te reflekteer op dekades se harde werk. Ons sien dit ook as ʼn tyd om gemaklik te leef en om die eenvoudiger dinge in die lewe te geniet.

Vir talle afgetredenes is dit egter nie die geval nie aangesien hulle sukkel om kop bo water te hou en hul maandelikse uitgawes te betaal. Dié tydperk in hul lewe gaan egter oor die algemeen ook met die agteruitgang van hul gesondheid gepaard wat hoër gesondheidsorgkoste tot gevolg het.

Volgens Statistieke Suid-Afrika se jongste bevolkingskatting is 9% (5,3 miljoen) Suid-Afrikaners 60 jaar of ouer.

Meer as drie miljoen van diegene wat 60 jaar of ouer is ontvang ouderdomstoelae, voer Statistieke Suid-Afrika in sy maatskaplike profiel vir ouer persone aan. Volgens die verslag was slegs 22,9% van ouer persone in 2015 lid van ʼn mediesefonds.

Die drie gesondheidstoestande wat die algemeenste onder ouer persone voorkom is hoë bloeddruk (45,3%), diabetes (15,8%) en artritis (13,8%). Daar word ook geskat dat 38% van Suid-Afrikaners wat 60 jaar of ouer is chroniese medikasie gebruik. Die gebruik van hulptoestelle is ook hoog.

Navorsing het bevind dat die meerderheid van afgetredenes tot ʼn groot mate op die inkomste van ʼn salaris staatmaak aangesien hul pensioeninkomste gebrekkig is.

Volgens Old Mutual se 2019-monitor oor spaar en beleggings hou tot soveel as 92% van afgetredenes aan om te werk aangesien hulle afhanklik is van ʼn bykomende inkomste om te oorleef.

“Sowat 80% van mense se maandelikse pensioenbydrae maak slegs sowat 27% van hul inkomste uit terwyl beleggings of spaargeld sowat 7% bydra,” sê Lynette Nicholson, navorsingbestuurder by Old Mutual.

Volgens statistiek is mediesefondsbydraes een van die eerste uitgawes wat gestaak word wanneer afgetredenes sukkel om kop bo water te hou. Dit het tot gevolg dat hulle van staatsklinieke en            -hospitale afhanklik is. Talle staatshospitale het ʼn tekort aan personeel en hulpbronne wat beteken daar is lang wagperiodes en die kans dat jy dalk glad nie bystand gaan ontvang nie. ʼn Mediesefonds of hospitaalplan word dus hoog aanbeveel.

Daar is ook mediese uitgawes wat nie deur jou mediesefonds gedek gaan word nie en wat jy uit jou eie sak gaan moet betaal. ʼn Meer omvattende mediesefondsplan en gapingsdekking kan dus tot groot voordeel wees in so situasie.

Afgetredenes kan ook toegang tot mediese sorg kry in die vorm van private tuissorg of as hulle in ʼn aftree-oord woon.

ʼn Studie deur Just Retirement het egter bevind dat afgetredenes kan verwag om meer as dubbeld vir private tuissorg te betaal as om in ʼn middelmark aftree-oord te huur. Volgens Just Retirement is die harde werklikheid dat diegene wat aftree nie genoeg gespaar het om hul inkomste vir die res van hul lewens te handhaaf nie. Hul begeerte om ʼn nalatenskap te los sal ironies genoeg daartoe lei dat hul afhanklik word van hul familie of die regering. 

Behoorlike beplanning vir aftrede, insluitend vir hoër gesondheidsorgkoste, is noodsaaklik vir diegene wat onafhanklik wil bly en hul laaste jare vry en tot die uiterste wil leef.

Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply