Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > Artikels  > Bly kalm, Tannie Nakkie word 100

Bly kalm, Tannie Nakkie word 100

“Bly kalm en wees eerlik”. Dit is hoe mens ‘n eeu oud word.

Tannie Nakki Barnard, die oudste inwoner van Ons Tuis Riviera in Pretoria, het daarna uitgesien om die groot 100-jaar mylpaal op 1 Julie te bereik, want, sê sy: “Ek het ‘n goeie lewe gelei.”

Sy dink met nostalgie terug aan haar skooldae op Sandfontein in die Noordwes provinsie toe sy met die perd skooltoe gery het. Sy het op ‘n plaas grootgeword en was van jongs af baie lief vir die natuur en veral blomme.

Volgens haar seun Johan, ‘n sielkundige, is sy ma ‘n besondere mens. Sy het ‘n skerp humorsin en het tydens die onderhoud probeer om die personeel om te koop om vir haar ‘sweeties’ te gee, as sy die vrae beantwoord, maar darem baie vinnig laat hoor dat sy net ‘n grappie maak.

“Sy het altyd baie vrae gevra en baie gepraat,” sê hy. “Sy hou daarvan om ingelig te wees en kon moeilike onderwerpe verstaan. Sy hoor nie meer so goed nie, maar sy gebruik selfs nog ‘n slimfoon”.

Dis nie net met die ouderdom wat Tannie Nakki vasbyt ken nie. Sy het vir meer as dertig jaar by die ou OK-winkel in Van der Waltstraat in Pretoria gewerk, nog voordat die naam OK Bazaars was. “Eers in die seunsafdeling, en toe later as die vloerbestuurder,” onthou sy.

Voor dit het sy vir vyf jaar by Yskor gewerk in die administratiewe afdeling en by die restaurant.

Sy vertel sy het juis een aand van die werk af gekom, vir haar ‘n broodjie en tee gemaak, skottelgoed gewas, afgedroog en gebêre en toe besef dis heeltemal te vroeg om te gaan slaap. “Toe besluit ek om die stoflap te vat en die kaste skoon te kry, en dan sou ek die volgende aand die vloere doen,” vertel sy. “Maar, toe ek opstaan kry ek die verskriklikste pyn in my been. Ek kon nie sit nie, ek kon nie staan nie en ek kon nie lê nie.”

Na verskeie pynpille was die pyn steeds daar toe sy agtuur die volgende oggend haar dogter bel om vir haar ‘n ambulans te bestel. By die hospitaal en na ‘n doktersondersoek was die nuus nie goed nie. Sy moes ‘n operasie kry, want “daar was niks bloed in my been nie”.

Tannie Nakki se been is net onder die knie geamputeer en vir die res van haar lewe het sy met ‘n prostese oor die weg gekom. Dit klink asof dit die enigste spyt in haar lang lewe is.

Sy was vir 38 jaar met Japie Barnard getroud en hulle het drie kinders gehad, een seun en twee dogters – van wie die een reeds oorlede is. Hulle het in Mountain View in Pretoria gebly. Sy het ook drie kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

Tannie Nakki se belangrikste raad oor ‘n goeie, lang lewe is om die Here goed te ken, “elke dag”.

 

Hannelie Fourie