Ons Tuis | OTMT | Retirement Homes > Nuusbrief  > Andries-Marie Oosthuizen Tehuis bied Ouer-Kinddag teen eensaamheid aan

Andries-Marie Oosthuizen Tehuis bied Ouer-Kinddag teen eensaamheid aan

Sowat een uit drie bejaardes ly aan eensaamheid. Die verlies aan werk, afsterwe van eggenotes en tydgenote, siekte of verswakte gesondheid is van die oorsake hiervoor. Dit lei op die beurt na depressie en verswakking, maar kan verhoed word deur gereelde kontak met vriende en familie.

“Ons sien elke dag hoe belangrik samesyn, veral van familie, is om veroudering teen te werk,” sê Teresa Broodryk, matrone van die Andries-Marie Oosthuizen Tehuis in Parys, Vrystaat. “Dit is waarom ons moeite doen om Ouer-Kinddae aan te bied.”

Ds. Arend Hoon het die opening van die Ouer-Kinddag op Saterdag 23 November by die tehuis waargeneem en die gaste verras met ‘n sangitem.

Milady’s het die modeparade en uitrustings geborg. Tydens die modeparade het die sewe ‘modelle’ van die tehuis gewys hoe om met grasie en glimlagte ouer te word.

Kind-2-Hearing,Cal-Mag-C en Anneke Liebenberg – wat betrokke is by die “Aktiewe Verouderings Program van AVBOB – het verskeie interessante besprekings oor gesondheid en aktiewe veroudering aangebied. AVBOB, die hoofborg, het gaste ook met pryse bederf.

Die inwoners se handewerk is te koop aangebied en die kleinkinders wat gesukkel het om stil te sit kon op die springkasteel wat deur mev. McClintock se dogter geborg is, rondspring.

Die duet CrossPhire het besoekers vermaak terwyl ‘n heerlike ete bedien is.

Hannelie Fourie
No Comments

Leave a reply